Koring-swamsiektes: Beskerm jou koring hierdie seisoen

Die verskillende plantdele van ’n koringplant speel ’n ongelooflike belangrike rol in die opbrengs wat die plant aan die einde van die seisoen lewer. Daarom is dit belangrik dat die plantdele van die koringplant reeds van vroeg af beskerm moet word teen ’n verskeidenheid swamsiektes wat dit kan bedreig. Die identifisering van verskillende swamsiektes, die omstandighede waarbinne hul floreer en die beheerstrategieë wat in plek gestel moet word, is kardinaal tot die beskerming van jou koring, die opbrengs aan die einde van die seisoen sowel as die winsgewendheid van jou koringboerdery. ’n Paar van die swamsiektes wat ’n bedreiging vir jou koring kan wees, sluit blaarroes, poeieragtige meeldou, stamroes, streeproes, bruinaar en vaalblaar in.

 

% Impak op opbrengs

 

Aar

45

100

Vlagblaar

35

 

Tweede blaar van bo af

10

 

Derde blaar van bo af

10

 

BLAARROES

Blaarroes, oftewel bruinroes (Puccinia triticina f.sp. tritici), vorm klein, ronde of ovaalvormige oranje-bruin puisies op die boonste oppervlak van die blaar. Hierdie puisies tree as ’n inokulum op vir die verspreiding van die swam van een plant na ’n ander. Primêre infeksie vind plaas deurdat die plant met urediospore geïnfekteer word. Hierdie urediospore word oor baie lang afstande deur wind versprei. Die teenwoordigheid van dou op blare vir ’n tydperk van ten minste ses ure asook temperature tussen 15 °C – 22 °C, skep gunstige toestande vir die ontwikkeling van blaarroes. Indien hierdie gunstige toestande vir lang tydperke aanhou kan nuwe urediospore elke sewe tot tien dae vrygestel word. Teen die einde van die seisoen ontwikkel daar swart spikkels aan die onderkant van die blaar - hierdie spikkels is van geen belang nie. Roesswamme oorleef op opslagplante tussen seisoene. Epidemies wat voor of tydens blom plaasvind, is krities veral as die vlagblaar aangetas word. Dit het ’n negatiewe invloed op die hoeveelheid korrels per aar en saadgrootte.

POEIERAGTIGE MEELDOU

Poeieragtige meeldou (Blumeria graminis f.sp. tritici) is ’n baie algemene graansiekte wat wêreldwyd voorkom. Poeieragtige meeldou word gekenmerk deur ‘n wit poeieragtige swam wat op blare en/of stam en aar kan voorkom.

Die swam kom gewoonlik eerste op onderste blare voor. Die swam ontwikkel vinnig onder warm vogtige toestande wat afgewissel word met droë en nat bewolkte periodes. Digte stande asook hoë stikstofbemesting verhoog die siekte se voorkoms. Plante is meer vatbaar gedurende periodes van groei, bv. tydens stamverlenging.  Ernstige besmettings kan syhalms laat afspeen.  Wanneer koring witroes in die aar kry, verswak die sapvloei en dan word dit chemies moeilik beheer. Siekte- ontwikkeling word onderdruk wanneer temperature bokant 25 °C styg.

Die swam oorleef hoofsaaklik as dormante mycelium (filamentagtige swamdrade) op koringstoppels. Luggedraagde konidia ontkiem oor ‘n wye temperatuurreeks (5 °C – 22 °C), maar temperatuur van

15 °C – 22 °C wat gepaard gaan met ‘n paar ure van relatiewe hoë humiditeit, is optimaal vir ontkieming.

STAMROES:

Stamroes (Puccinia graminis f.sp. tritici) word gekenmerk aan die verskyning van verhewe rooi-bruin puisies op die oppervlak van blare, blaarskede, stamme en are van vatbare kultivars. Met ligte infeksies is die puisies verspreid oor die oppervlak en is hulle los van mekaar. Met ernstige infeksies smelt die puisies saam om ’n kors te vorm. Anders as blaarroes, is stamroes se swampuisies langwerpig en dun. Hierdie puisies bestaan uit urediospore wat later swart verkleur en teliospore bevat.

Stamroes het warmer toestande nodig vir ontwikkeling: 20 °C of hoër. Koring wat laat aangeplant is, is meer vatbaar vir stamroes.

STREEPROES

Streeproes (Puccinia striiformis f.sp. tritici) is vir die eerste keer in 1996 in Suid-Afrika aangeteken. Streeproes kom as lang, heldergeel tot oranjekleurige strepe van wisselende lengte wat parallel met die blaarnerwe voorkom. Hierdie strepe bestaan uit roespuisies waarin die swamspore gedra word. Die swamspore word deur middel van die wind van een plant na ’n volgende oorgedra. Streeproes is op sy skadelikste wanneer blaarinfeksie voor stoelvorming begin en dit duur tot die sagtedeelstadium. Indien vroeë infeksie plaasvind, sal dit die planthoogte, strooi- en saadmassa, asook die aantal are en pitte per aar, negatief beïnvloed.

Streeproes is bekend daarvoor dat dit baie lae temperature en vogtige omstandighede vir ontwikkeling benodig. Infeksie kan tussen 2 °C en 15 °C plaasvind, met die optimum temperatuur vir infeksie: 11 °C. Gebiede met nagtemperature van laer as 15 °C wat gereelde dou, mis, reën en oorhoofse besproeiing ontvang, word as risiko-areas beskou. 

Swamsiektes 6

BRUINAAR

Bruinaar (Stagonospora nodorum, Septoria nodorum) vorm letsels wat gewoonlik op blare en are voorkom. Hierdie letsels is ligbruin en lensvormig. Op baie vatbare kultivars kan die lensvormige vlekke chloroties en nekroties word. Hierdie verskyn gewoonlik tussen twee tot drie weke voor aarverskyning wanneer toestande gunstig is vir die siekte se ontwikkeling.Gunstige toestande vir infeksie sluit temperature tussen 20 °C en 27 °C in. Die blare moet ook vir ’n periode van tussen 6 en 12 ure nat wees. Plante word gewoonlik siek weens die besmette saad of stoppel van die vorige seisoen. Luggedraagte spore oorleef op stoppels en word met die eerste winterreën vrygestel waarna daar dan infeksie plaasvind. Sekondêre infeksie (as gevolg van reëndruppels) versprei die siekte deur die gewas. Bruinaar kom dus redelik laat in die seisoen voor vanaf die blom- tot stywedeegstadium.

VAALBLAAR

Vaalblaar (Septoria tritici) is ’n baie algemene siekte wat veral in produksiegebiede met ’n nat en winderige klimaat tydens plante se groeiperiode voorkom. Klein, bruin kolletjies vorm aanvanklik op die blare indien die plant met Septoria tritici besmet is. Hierdie bruin kolletjies ontwikkel dan oor die lengte van die blaar; al langs die are af. Later verander hierdie kolle in langwerpige, ovaalvormige, bruin vlekke. Die binnekant van die vlek word grys en bevat die swart vrugliggame van die swam. Namate die einde van die seisoen nader, kan die vlekke saamsmelt en groot dele van die blaaroppervlak bedek.

Vir die voorkoming en die korrekte beheer van swaminfeksies in jou koringlande, is dit krities om die simptome van die verskillende siektes vroegtydig te identifiseer en die korrekte beheerstrategieë in plek te stel. Kontak jou naaste Bayer-verteenwoordiger vir verdere inligting oor die korrekte gewasbeskermingsprodukte om jou koringlande hierdie seisoen swamvry te hou.

 

Bronne:

Malan, A.F. 2019. Produksie van kleingrane in die winterreënvalgebied. LNR-Kleingraan. Stellenbosch Universiteit.
Komen, J.S. Kennis van Koringsiektes: Jou Sleutel tot Suksesvolle Verbouing in die Wes-Kaap. Skakel: https://wintercerealtrust.co.za/dynamic/articles/Kennis_van_Koringsiektes.pdf
Bayer Bulletin. Koring Swamsiektes. Skakel: https://www.cropscience.bayer.africa/za/en-za/resources/bulletins.html

The browser compatibility override message