Die afgelope jaar was uitdagend vir vele industrieë en die landboubedryf was geen uitsondering nie. “2020 sal onthou word as die jaar waarin daar ’n ‘reset’-knoppie gedruk is en deurgaans herbesin moes word oor die toekoms,” sê Kobus Steenekamp, Bayer Kommersiële bestuurder: Suid-Afrika.
Met die knypende ekonomiese klimaat, is een van die grootste vrae waarvoor produsente vanjaar te staan gekom het, hoe om meer met minder te produseer. Kobus meen, die innovasie wat Bayer bied, bied ’n antwoord op hierdie belangrike vraagstuk.

“As ’n maatskappy word ons gedryf deur ons doel ‘Wetenskap vir ’n beter lewe’. Ons missie as Bayer Crop Science is om landbou te vorm tot voordeel van ons produsente, verbruikers en die planeet. Dit bring ’n baie groot verantwoordelikheid mee en ons is trots dat ons jaarliks nuwe produkte en tegnologieë beskikbaar kan stel vir produsente om byvoorbeeld meer graan/ per hektaar te produseer, meer hoë kwaliteit aartappels per hektaar, ensovoorts, en terselfdertyd die impak op die omgewing te verminder deur byvoorbeeld minder en meer omgewingsvriendelike insekdoders te gebruik.”
In hierdie opsig speel innovasie ’n kardinale rol. Vir Bayer is een van die belangrikste fokusareas om konstant aan die voorpunt van tegnologie te bly en middels te ontwikkel wat sal bydra tot die winsgewendheid van die produsent se boerderypraktyk.
“Innovasie en vernuwing verseker ons bestaansreg. Daarom word ’n betekenisvolle belegging jaarliks gemaak om nuwe produkte te ontwikkel tot voordeel van die produsent en uiteindelik die verbruiker. Produsente in Suid-Afrika word gekenmerk as vinnige aanvaarders van nuwe tegnologie,” sê Kobus.
Volgens Kobus kan die bekendstelling van Bayer se nuwe aalwurmdoder, Velum® GR, in hierdie opsig genoem word sowel as die biotegnologie-geeneienskap wat onlangs goedgekeur is vir die beheer van herfskommandowurm.
“Voorts is ons die leiers as dit kom by kortstatuur-mielies wat reeds vanjaar in Suid-Afrika getoets word en is die pyplyn vir die volgende vyf jaar baie gesond!” sê Kobus.
Met ’n geskiedenis wat strek oor meer as 150 jaar, beskik Bayer oor ’n breë genetiese poel (mielies, groente, sojabone), gewasbeskermingsprodukte (saadbehandelings, insekdoders, onkruiddoders, swamdoders, biologiese produkte), biotegnologie geeneienskappe (glifosaatverdraagsaamheid, insekweerstand) en ’n presisieboerdery-platform (Climate Fieldview™) wat almal ondersteun word deur kundigheid.
“Wat Bayer anders maak is die feit dat ons pasgemaakte aanbevelings kan maak en ook verder versterk met ander produkte waar nodig om die beste oplossing vir die produsent te bied. Verder is Bayer ’n gediversifiseerde maatskappy wat ook fokus op verbruikersgesondheid en farmaseutiese produkte. Ons raak die verbruiker daarom om veelvuldige vlakke.”
Kobus meen Bayer is ongelooflik positief oor die toekoms van Suid-Afrika se landbou-industrie en glo hulle dat produsente ’n kritiese rol speel om voedselsekerheid te verseker. Bayer is daarom toegewyd om by te dra tot volhoubare voedselproduksie.
“Ons glo dat ons produsente trots is op hul boerdery en is die produsent se TROTS ons passie!”
Hy meen produsente moet juis in hierdie tyd die geleentheid gebruik om strategies te dink oor hul boerdery se toekoms en bewus wees van elke koste-element se waardeproposisie.
“Klimaatsvooruitsigte en produkpryse van meerderheid gewasse is positief, benut die geleenthede!”